Our first Afrikaans Article

Posted by Willem on Mon March 23, 2015 in The characters.

At the Chavonnes Battery we enjoy being approached for information about the history of Cape Town, often it’s unusual and sometimes wacky which we can refer to Willem Steenkamp and get to enjoy another dose of flavorful insight into life at the Cape (or the world) at the time. We have an example of an email query to share with you and our first Afrikaans Article. (Kind permission by authors)
Pic above: The Caabse Vlek, F Riedel, 1779

Dear Dale

My probleme wat ek graag opgelos wil hê asseblief is as volg:

My stamvader, David Wandrag, se naam verskyn agtereenvolgens vir die jare 1786 tot 1789 in die transkripsies van die “Generale Monsterrolle”.  Sy beroep word hierin aangegee as lademaker wat moontlik lodemaker moet wees. Ek is onseker oor wat dit behels. Hieruit moet afgelei word dat David moontlik ’n soldaat  in diens van die VOC was gedurende hierdie tydperk.  

My eerste vraag:

Hoe en wanneer het David in die Kaap aangekom?  Ek kon nog geen bron kry waar sy naam op ’n skeepslys of enige ander lys verskyn nie.  Selfs my Nederlandse vriend kon in die VOC rekords geen spoor van hom vind nie.

Nou is dit bekend dat daar in 1786 ’n eenheid van die Württemburgse leer vir ’n kort rukkie in die Kaap diens gedoen het.  Is daar enige rekords van soldate wat uit hierdie geledere in die Kaap agtergebly het?

My tweede vraag

Dr J Hoge skryf David se van as WANTRANC in sy Personalia publikasie en noem sy beroep “gunstock maker” .  Wat sou hy as bron gebruik het? Hy meld “G.M.R” wat Generale Monsterrolle is as bron.  (David het later sy eie besigheid gehad en ’n slaaf as geweermaker in sy diens gehad).

Ek sal dit baie hoog waardeer as iemand my kan help om antwoorde op hierdie vrae te vind.

Groete

Hettie Muller

 

Geagte mev Muller

1. Hoge het dit reg. “Lademaker” was die ou Hollandse terme vir ’n houtwerker wat ’n geweerkolf (“lade”) gemaak het. “Lade” bestaan nog steeds in Afrikaans in effens veranderde vorm en betekenis as “laai”, bedoelend die deel van die kolf wat vanaf die snellerbeuel onder die loop langs vorentoe strek.  Hoge het dit dus korrek uit die Monsterrol vertaal, sonder om enige ander bronne na te slaan. Ter info, my eie bron in hierdie verband is die gesaghebbende “Antieke Vuurwapens” deur Jonkheer R T W Kempers, ’n vooraanstaande Nederlandse versamelaar van destyds.

2. Wandrag kon ’n soldaat gewees het, maar myns insiens is dit meer waarskynlik dat hy ’n burgerlike geweersmid (oftewel kolfmaker, soos ons vandag sou se) in diens van die VOC was. Die feit dat hy etlike jare op die Monsterrol verskyn, terwyl die Luxembourgers maar ’n relatief kort tydjie aan die Kaap deurgebring het, is ’n goeie indikasie dat dit dalk die geval was.

Hoe en wanneer hy in die Kaap aangekom het kan mens ook oor bespiegel. Hier is een teorie: Daardie dae was dit die gebruik om siek matrose by die Kaap af te laai om te herstel – baie van hulle het aan skeurbuik gelei omdat dit drie tot vier maande sonder enige vars kos, groente of vrugte geneem het om hier aan te kom - waarna hulle dan na ’n ander skip verplaas is, wat op sy beurt ook van sy siek matrose moes aflaai. Daar was egter altyd ’n tekort aan geskoolde arbeid aan die Kaap, en dit kan wees dat hy na sy herstel nie op ’n ander skip geplaas is nie, maar genooi/aangese is om agter te bly toe hulle uitvind dat hy ’n kolfmaker of selfs net ’n geskoolde houtwerker  is. Dit is blykbaar wat met een van my eie stamvaders gebeur het, ook ’n matroos wat nie verder as die Kaap gereis het nie.

Feit van die saak is dat daar definitief vir Wandrag werk sou gewees het, want daar was baie siviele en militere gewere wat gedurig reggemaak moes word, en kolwe het dikwels skade gelei. In party gevalle is net geweerlope, panslotte, snellermeganismes en ander metaaldele ingevoer, waarna kolwe plaaslik gemaak is.. Waarskynlik het sy kontrak met die VOC na 1789 verstryk, en het hy toe ’n vryburger geword (vryburgers was nie net boere nie, soos baie mense dink, hulle het al wat ’n soort beroep gehad). Ons weet egter dat hy nie soos sommige VOC-dienaars na Nederland terug is nie, want volgens Hoge het hy in 1793 getrou, twee kinders opgewek en in 1826 aan die Kaap gesterf. Dit sou verklaar waarom hy nie verder as 1789 in die Monsterrol verskyn nie – vryburgers was nie VOC-dienaars nie.

So daar het mens dit – baie afleidings, maar dit vul darem al die leemtes in tot tyd en wyl stewiger bewyse gevind kan word (indien dit moontlik is).

Terloops, die feit dat Wandrag ’n Duitser was, is nie noodwendig van betekenis vir die doeleindes van hierdie gesorek nie. Soos Hoge bewys, het ’n groot getal Duitsers in die oudae  by die VOC aangesluit en hulself permanent hier gevestig. Een van my stanvaders was definitief ’n Duitser, en die ander waarskynlik ook, hoewel ons dit nog nie kon bevestig nie.

Ek hoop dat hierdie paar brokkies van hulp kan wees.

Groetnis

Willem Steenkamp

 

Goeienaand mnr Steenkamp

Baie dankie vir hierdie waardevolle insigte wat u vir my gegee het.

Ek het op FamilySearch gesoek na ander Wandrags.  Ek het geen ander inskrywing vir Wandrag in Duitsland gekry nie, wel in Hongarye! Dit bemoeilik nou die taak om voorouers verder terug te vind!

Weereens baie dankie vir u moeite.

Groete

Hettie Muller

 

Mev Muller

Bly om te kan help. Wat Hongarye betref: mens moet onthou dat die huidige amptelike politieke grense van Duitsland maar uit die 1870’s dateer. Aan die begin van die 18de Eeu het wat vandag Hongarye is, onder die Habsburg-monargie geressorteer m.a.w. Oostenryk, wat natuurlik Duitssprekend is en was. Daar was ook suiwer Duitsers in Hongarye se sake betrokke. Dus sou dit nie onmoontlik wees om ‘n Duitssprekende Hongaar te kry nie.

U kan natuurlik ook begin deur kontak te maak met Wandrag se tuisdorp/stad, Sangerhausen, soos deur Hoge aangegee, en sien of hulle nog die ou doop- of geboorteregisters het. Sangerhausen is tans in Noord-Duitsland gelee, maar weereens is dit nie ‘n onfeilbare bron nie  - mens weet nie of dit Wandrag se geboortedorp was nie, of eenvoudig sy tuisdorp toe hy by die VOC gaan werk het. Mens weet ook nie of die ou rekords die Tweede Wereldoorlog oorleef het nie – darem hopelik ja, omdat Sangerhausen sover my kennis strek nie die toneel van enige noemenswaardige bakleiery was nie. Dis maar ‘n geval van die bosse skud en sien wat uitvlieg.

Terloops, sover ek kan uitmaak word die Platduitsdialek in Sangerhausen se omgewing gevind, en dit is monntlik ‘n aanduiding van iets -   baie van die Duitsers wat Kaap-toe gekom het se eerste taal was Platduits, wat baie na aan Hollands is. Dit is ook natuurlik moontlik dat die Wandrag-familietak van Duitsland intussen uitgesterf het (daardie dae het mense makliker gesterf as vandag). Nou ja, Nog ‘n geheim wat in ‘n groter geheim toegedraai is! Sterkte met u soektog.

Willem Steenkamp

For more entertaining and interesting insights into life at the Cape in the early years,...Signed copies of Willem's latest book "Assegais, Drums and Dragoons" are available on sale at the museum with all proceeds to the museum (Postage Available).... Buy a copy